« August 2008 | Main

Tuesday, July 15, 2008

Marrakesh - Magiese Stad van Souks

In die elfde eeu gevestig, was Marrakesh eens die hoofstad van ‘n reik wat van Spanje na Senegal gestrek het. As ruspunt op die handelsroete van Timbuktu na Europa het dit miskien destyds as betsemming sin gemaak, maar toe ek onlangs vir besigheid soontoe moes gaan het dit uit die lug allermins so daar uitgesien. ‘n Lappieskombers in stofskakerings met lang paaie wat uit nêrens kom en weer in die niet verdwyn, lyk dit uit die lug uiters onmerkwaardig. Verder vlieg jy deur ‘n stofkombers wat soos winter-Gauteng se veldbrandrook oor die landskap hang.

Die realiteit kon beswaarlik verder van die waarheid wees. Goed, die Juliehitte slaan jou wel soos ‘n droëwarm handdoek deur die gesig as jy op Casa Blanca uit die verkoelde (?) vliegtuig klim (somertemperature slaan 38 grade selsius) en jy moet nog ‘n verdere 40 minute per vliegtuig na Marrakesh self aflê, maar as jy eers daar land betower die pragtige lughawe jou onmiddellik met ‘n koel, simmetriese misterie wat die beste van die noordafrikaanse styl saamvat.

In Marrakesh self aangekom kan dit jou dalk ‘n rukkie neem om aan die bestuurstyl gewoond te raak. ‘n Warboel van huurmotors, busse, perdekarre en derduisende bromponies met valhelmlose bestuurders van alle geslagte en ouderdomme, speel chicken met mekaar om die verskeie sirkels en langs die nou straatjies af. Dis nie ongewoon vir ‘n hele gesin, Ma, Pa, en twee kinders om op een brompnie rond te ry nie. Die gebrek aan aggressie te bespeur is tipies van ‘n stad waar niemand iets het om te bewys nie en dit te warm is om te sukkel—gelukkig is die humiditiet nul anders sou dit onuithoudbaar wees. In die somer eet jy eers van agtuur af want dit word eers tienuur donker.

Marrakesh is ‘n samesmelting van oud en nuut in twee onderskeie helftes—die oorpsronklike stad of Medina binne die ou stadsmure, en die nuwer gedeelte wat in die tagtigerjare ontstaan het, komplementeer mekaaar goed. Jy kan ‘n goeie oorsig kry deur op die hop-on-hop-off toer te gaan. Dit het punte dwarsoor die stad, ou en nuwe dele, en jy kan afspring om later weer op ‘n vasgestelde tyd op te spring en na die volgende gedeelte te kyk. Kies tussen een van twee roetes (altwee 12 Euros, vir 24 uur geldig, vertrek elke 60 minute): die Marrakech Monumental-toer, (hoogtepunte sluit in Theatre Royal, Palais des Congres, Place de la Liberte and Tombeaux Saadiens) of die Marrakesh Romantique (hoogtepunte sluit in Les Jardins Majorelle, Le Tikida Garden and Palmeraie Golf Palac). Opgeneemde kommentaar is op Engels en verskeie ander tale op oorfone beskikbaar.

Jy kannie sê jy was in Marrakesh sonder om die Jamaa El Fna-plein met sy eksotiese goedere, slangbesweerders, waterverkopers,spyswaens en fortuinevertellers te besoek nie. Wees bewus, dit is nie op elke huurmotorbestuurder se agenda om jou daar te kry nie. Hulle sal probeer om jou na ander winkels te neem waar die regering kwansuis pryse vaspen om toeriste te beskerm (hulle kry sekerlik ‘n kickback as hulle jou veilig daar besorg). Moet ook nie meer as 20 Dirham betaal om enige plek in die stad uit te kom nie. Vra eers voor jy inklim en draai jou rug op die motor as dit te duur klink—die bestuurder sal gou sy storie verander!

Ek was gelukkig reeds by die markplein toe ek vir díe foefie geval het. Alles is nou wel mooi in ‘n lugverkoelde winkel gerangskik maar die pryse is buitensporig en dis vervelig. Vat eerder die pad na die plein waar jy in die Souks met handelaars kan onderhandel. Maak seker dat jy die plaaslike geld byderhand het. Een Dirham is nagenoeg een Rand werd en dis makliker om agter te kom hoeveel jy werklik bestee. Om die heeltyd Euro na Rand in jou kop te moet omsit is ‘n pyn en glo my dis moeilik genoeg om tred te hou met die slinkse handelaars. Kyk na elke muntstuk wat hulle jou kleingeld gee, want hulle is nie almal ewe eerlik nie! Begin sommer onmiddellik by halfprys onderhandel en as dit te duur klink, draai jou rug op die verkoper. Jy sal dit elders kry.

Jy kan lekker bly van ongeveer 17 tot 580 Euro per aand met verskillende fasiliteite ingesluit. Diens is goed en alle hotelle is nie meer as 10-15 minute van besienswaardigede nie. Kyk op www.tripadvisor.com na wat ander reisigers oor verskillende opsies sê.

Jy kannie direk van Suid Afrika na Morroco reis nie. Ons is via Parys (Charles de Gaule), Casa Blanca en dan Marrakesh en dit het, insluitend belasting, sowat R17,500 beloop met Air France. Jy sal dalk met spesiale offers, en via ander sentrums minder betaal. Gaan kyk op www.expedia.com en sien hoe dit lyk. As bestemming is die stad miskien ‘n week tot tien dae werd as jy wil rus, aangesien die lewenswyse jou dwing om te ontspan. Jy sou dit dalk eerder wou insluit by ‘n tydjie in Frankryk en miskien ander noordafrikaanse bestemmings om die meeste te maak van jou vliegkaartjie. Maar as jy eers daar is, is Marrakech magies.

Posted by at 12:48 PM Central African Time
Categories: